Anna word 77

Elke nou en dan, so tussen die wyn drink en ander sulke mundane stuff, kom daar gedagtes van ‘n meer filosofiese aard by mens op. Diep goete wat nadenke en bepeinsing eis. So kyk ek na die kalender (noodsaaklike ding na 70 om te probeer onthou om nie te vergeet nie - al ding is jy moenie vergeet om na die kalender te kyk nie.....) en sien dat my Anna se 77e verjaarsdag opgedaag het. En dadelik word ek filosofies.

As mens rekenaars leer om stuff te doen, werk jou kop logaritmies. Jy breek die stuk werk of probleem in logiese stukkies op, werk aan die stukkies en pas hulle in die geheel in. Wanneer jy klaar is, is die probleem opgelos of die werk gedoen. As mens dit voltyds doen, word dit maklik jou benadering tot als. Dit was, dink ek, een van die redes hoekom ek begin kos maak het- 'n resep is tog maar net 'n logaritme om 'n spul bestanddele in iets eetbaar te verander. Maar ek het mettertyd besef dat mens se lewe nie deur algoritmes aanmekaargesit is nie. Die alledaagse goete verg dikwels ‘n ander benadering. Want mens kan mos nie jou emosies uit die prentjie haal nie. En as mens terugdink oor die verlede, is daar baie goete waar algoritmes geen rol gespeel het nie. Emosies wel.

Een so ‘n ding was Vaatjie Lombaard. Hy en die episode in standard 3 het seker ergens in my onderbewuste gesluimer en gewag vir die regte oomblik om op te duik. Vaatjie Lombard was so ‘n nors vent – sy ouers was ryk en ons was nie vriende nie. Hy het langs my in die bank gesit. Voor hom was Helena Knoetze, so ‘n dunnerige meisie met ‘n lang blonde vlegsel en puisies.

Een vervelige oggend was Vaatjie besig om met iemand oorkant die paadjie te praat. Ek leun skuins vorentoe, kry Helena se vlegsel beet en doop die punt in die inkpot op ons bank. En sit ewe onskuldig terug. Helena voel die gevroetel, bring die vlegsel vorentoe en sien die ink-gevlekte punt. Sy gil, draai om en gee vir Vaatjie ‘n hengse klap. Mnr. de Venter stap nader, bekyk die spul, gryp Vaatjie aan sy oor en sleep hom vorentoe. Sonder ‘n woord haal hy sy bamboeslat uit en gee hom drie soliede houe teen die boud. Vaatjie kom al vrywende terug en kyk verward rond. Ek sit so effens verstom, maar met ‘n uitdrukking van totale onskuld op my gesig.

Ek is tot vandag nie seker of Vaatjie mooi besef het wat gebeur het nie. En ek? Moes ek opgevlieg het en skuld beken het? Seker ja, maar voor ek tot verhaal kon kom het Vaatjie se boude al gebrand. As ek toe die etiese ding gedoen het, het myne ook gebrand, en dit het vir my geen sin gemaak nie. Maar dit pla my steeds.

Was ek oneerlik of geslepe of bloot net prakties? Ek weet nie – al wat ek mense kan aanraai, is om nooit agter ‘n meisie met ‘n lang vlegsel te sit nie. Dis dodelike temptasie daai…….

Gelukkig het die Vaatjie-ding nie eintlik veel effek op die res van my lewe gehad nie- ‘n impulsiewe oomblik wat uitgespeel en vergete is. So plus minus. Als emosie, geen algoritmiese denke nie.

Nie alle sulke impulsiewe dade het net ‘n vlietende uitwerking op mens se lewe nie. Sommige bly jou by. Soos toe ek vir Anna ontmoet het en net daar besluit het dat a) ek haar liefhet en b) dat sy by my moet intrek en c) dit terstond moet gebeur. Impulsief. Lewensveranderend. Gelukkig, dankie tog, het sy na presies dieselfde noot geluister. Normaalweg gladnie so impulsief soos ek nie, het sy alle sin en rede oorboord gegooi en saam met my na haar hart geluister. Die resultaat was vir ons altwee great – twee legkaartstukkies wat gladweg inmekaar gepas het. Was dit iemand anders, was Helena se vlegsel weer gevlek en het Vaatjie se boude gebrand.

Geluk met jou verjaarsdag, my lief. Hiers ‘n song vir jou.